Goeie nuus van Tussen Sterre hulle deel ‘onvoorwaardelike liefde’ met ‘n nuwe snit

Die gewilde musiekgroep, Tussen Sterre, het pas hul vyfde enkelsnit vanaf hul debuutalbum, Kosmies, vrygestel.

Agapé wat deur SJ van Dyk, een van die lede in die groep geskryf is, is ’n Griekse woord vir onvoorwaardelike liefde. “Liefde is soms maar vir ons almal Grieks. Soms kan mens so gou bang raak vir die liefde. Mense loop met hul hart op hul mou. Die oomblik wanneer jy die regte een ontmoet dan begin jy die betekenis van Agapé verstaan,” vertel SJ.

Volgens SJ wil hulle graag hê hul gehoor moet onvoorwaardelike liefde voel, eerder as om dit te probeer verstaan. “Ons hoop dat elke keer wanneer mense die liedjie luister hulle dáárdie gevoel sal ervaar.”

Die manne stem heelhartig saam dat die liedjie beslis ’n uitskieter op hul album is, en verduidelik: “Dis iets heeltemal anders as ons vorige vrystellings. Ons wil mense ’n ander sy van ons wys.”

Die groep is ook reeds besig om te werskaf aan ’n musiekvideo en skiet dit binne die volgende paar weke. Die groep wil nie nou al iets verklap nie, maar verseker hul gehoor dat daar vele verrassings wag. “Ons werk met die ongelooflike span van The Real Thing. Ruan Kotze het altyd sulke ongelooflike idees.”

Tussen Sterre is ook onlangs benoem vir drie Ghoema-musiekpryse, en het weggestap met die Ghoema vir die Publiek se Gunsteling duo/groep. Hieroor sê hulle: “En toe wen ons een ook! Ons was reeds in die wolke (en tussen die sterre) oor ons drie benoemings. Ons ag die toekenning as ’n groot voorreg. Om te dink mense het actually geld spandeer op stemme vir ons.”

Agapé is nou digitaal beskikbaar asook op hul album wat landwyd beskikbaar is.

Loer na die musiekvideo van hulle treffer:- Tussen Sterre – Agapé

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment