Elizma Theron se nuwe album is ‘kraakvars en lewenslustig’

Elizma Theron is reeds ’n maand of wat besig om die wêreld aan die brand te sing met haar girl power treffer-enkelsnit, Marilyn Monroe, en nou is haar kraakvars nuwe album, Hierdie hart brand liefde, ook op die rakke!

Jy hoef net een maal na hierdie album te luister om te weet dat die omslae hulle vashou moet kén om die energie wat daaruit borrel in toom te hou. Dis ’n viering van die lewe en die liefde wat – selfs wanneer opdraende paaie en uitdagings verken word – deurgans glimlag met ’n onblusbare passie, hoop en ’n huppel in die stap.

Met snitte soos Roep my, Waterval, Jy voltooi my, Dit vat net een, It’s your turn, Wasem van my asem die titelsnit en ’n hele rits ander kry diep, noukeurig geslypte lirieke lewe in aansteeklike ritmes en dawerende vokale lyne, afgewissel met seepgladde harmonieë.

Twee snitte staan in die besonder uit: Marilyn Monroe, wat Elizma met trots opdra aan elke vrou, ongeag van hoe jy lyk, wat jou agtergrond is, hoe oud of jonk jy is, of die grootte van jou klere: “Marilyn Monroe was die toonbeeld van skoonheid en vrouwees. Met hierdie liedjie wil ek elke vrou herinner dat jy ’n Marilyn Monroe in jou het en dat dit belangriker is dat jý haar in jouself raaksien as dat die wêreld haar raaksien. Skoonheid straal van binne af buite toe… jy moet net jou innerlike Marilyn ’n bietjie loslaat!”

Sarajevo cello vertel die storie van Vedran Smailović, ook bekend as “Die tjellis van Sarajevo”, wat in 1992 die wêreld se harte aangegryp het toe hy, op die presiese plek waar 22 mense net die vorige dag in ’n mortieraanval gedood is terwyl hulle in ’n ry vir kos gestaan en wag het, sy cello opgestel het en, vir 22 dae, elke dag om 16:00, die mooiste musiek in beide protes en ‘n oproep om vrede gespeel het.

Hierdie hart brand liefde is 101% Elizma: goed gebalanseerd, eerlik, opreg en weldeurdag met tonne hart en skop!

Luister hier na ‘n voorsmakie van haar treffer:- Elizma Theron – Hierdie Hart Brand Liefde

Loer hier na haar musiekvideo wat opslae maak:- Elizma Theron – Marilyn Monroe

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment